Wednesday 18 May 2016

Bierboks sjokoladekoek

Hierdie sjokoladekoek gaan jou laat terug verlang na jou eie kinderdae. Die ideale, maklike resep om neer te skryf vir verjaarsdagpartytjies.
Hierdie koek kan in ‘n bierboks of 'n oondpan gemaak word binne twee ure. Daar kan ongeveer 25 blokkies uit hierdie koek gesny word.



Bestanddele:

2 koppies meel
2 koppies suiker
1 koppie kookwater
½ koppie kookoilie
¼ koppie kakaopoeier
125g botter
½ koppie karringmelk
2 eiers
½ teelepel koeksoda
½ teelepel vanieljegeursel
1 blikkie Ideal melk
½ koppie bruinsuiker
180g sjokolade van jou eie keuse (ek het Cadbury se wholenut gebruik)
Opsioneel: Ekstra ‘sprinkles’, koekies of lekkers om die koek te versier.
WENK: As jy nie karringmelk in die huis het nie: Meng ½ koppie melk en 1 teelepel wit asyn saam en laat dit eenkant staan vir 5 minute.

Metode:

1.       Voorverhit die oond tot 180⁰C.
2.       Voer die bierboks of oondpan uit met foelie. Die blink kant van die foelie moet boontoe wys. As jy ‘n bierboks gebruik, gebruik ‘n krambinder op die hoeke van die boks vir ingeval die gom in die warm oond smelt.
3.       Sif die meel in ‘n mengbak, gooi die suiker by en meng saam.
4.       Meng die water, olie, botter en kakao saam in ‘n klein kastrol en bring tot kook.
5.       Gooi die warm mengsel by die meel en suiker en meng goed saam. Maak seker daar is geen klonte nie.
6.       Meng die karringmelk, eiers, vanielje en koeksoda saam in ‘n mengbak en voeg dit dan by die mengsel.
7.       Meng alles goed saam.
8.       Gooi die mengsel in die pan of boks.
9.       Bak vir 20-25 minute of tot ‘n toetspen/mes skoon uitkom wanneer dit daarin gedruk word.
10.   Terwyl die koek bak, plaas  van die blikke Ideal-melk en bruinsuiker in ‘n klein kastrol en bring tot kook sodat die suiker smelt. Gooi die mengsel oor die warm koek sodra dit uit die oond kom.
11.   Laat eenkant om af te koel.

12.   Wanneer die koek afgekoel het, plaas die sjokolade en die laaste  van die blikkie Ideal melk in ‘n klein kastrol oor lae hitte tot die sjokolade gesmelt het. Gooi die sjokolade oor die koek en laat dit afkoel.

1 comment:

  1. Baked it! A great success! Family and friends love the cake. Yummy 😋

    ReplyDelete